Local newsNews

KYK: Uil-familie vind tuiste in Birchleigh

Kies uile bo gif om rotte die piep te gee.

Te danke aan plaaslike plaagbestuur spesialiste het twee Birchleigh-inwoners nou uile as bure en dié geveerde vriende ’n nuwe tuiste.

Die Van den Berg-egpaar wou aanvanklik net hul yslike palmboom in Sederlaan snoei, toe hulle agterkom dat vier nonnetjie-uile daar ingetrek het.

“Ons woon al oor die 30 jaar in die huis, maar dit is die eerste keer waarvan ons weet dat uile intrek,” het Reinette aan Express gesê.

Sy en haar man Buks wou graag hê die roofvoëls moet bly. Met die hulp van buurvrou Hendie de Beer, wat net so lief vir die uile is, is EcoSolutions genader om ’n uilboks in die boom te sit.

“Ons probeer biologiese maniere kry om pes te beheer,” het senior ekoloog Francois Combrinck vertel. “Ons is heeltemal teen gifstowwe. Daar is nie so iets soos rotgif nie. Dit werk nie net op rotte nie, maar ook op ander diere en selfs kinders.”

Hy meen ook dat rotte deesdae weerstandig teen gif is en dat gifstowwe nooit werklik uit ons ekosisteem kan gaan nie. Daarom moet mens liefs na natuurlike plaagbeheerders kyk, soos uile en vlermuise.

Die Van den Bergs van Birchleigh wou net dié palmboom laat snoei, toe hulle sien dat vier nonnetjie-uile ingetrek het. Hiér vlieg een na ander skuiling, terwyl haar nuwe huisie gebou word.

“Deur owlproject.org hoop ons om uile in stedelike gebiede te bevorder,” het Combrinck bygevoeg. Volgens hom sal dit idillies wees as elke huis ’n uil-inwoner het.

“Die uile is hier vir ’n rede; daar is kos hier, so ons wil hulle hier hou.”

Ongelukkig is daar nie altyd nesplek vir uile in die stad nie, en dié voëls van die nag moet elders blyplek soek.

Gelukkig het Sederlaan se uil-familie ’n opgeknapte huisie, waarin hulle nog lank ’n uiltjie in kan knip. En hulle bly ook nie verniet nie! In die nag gee hulle onwelkome knaagdiere die piep.

 
Back to top button